| Chapter 105 |
1 | Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend. |
2 | Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders. |
3 | Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees. |
4 | Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur. |
5 | Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond, |
6 | o nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes! |
7 | Hy, die HERE, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele. |
8 | Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte -- |
9 | die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; |
10 | wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as 'n ewige verbond, |
11 | met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel. |
12 | Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin, |
13 | en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk, |
14 | het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê: |
15 | Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie. |
16 | En Hy het 'n hongersnood oor die land geroep: elke staf van brood het Hy verbreek. |
17 | Hy het 'n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. |
18 | Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, |
19 | tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het. |
20 | Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat. |
21 | Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed; |
22 | om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer. |
23 | Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam. |
24 | En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders. |
25 | Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel. |
26 | Hy het Moses, sy kneg, gestuur en Aäron wat Hy uitgekies het. |
27 | Di het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam. |
28 | Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie. |
29 | Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe. |
30 | Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings. |
31 | Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied. |
32 | Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land. |
33 | En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek. |
34 | Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal, |
35 | wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond. |
36 | Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag. |
37 | Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie. |
38 | Egipte was bly toe hulle uittrek, want vrees vir hulle het op hulle geval. |
39 | Hy het 'n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig. |
40 | Hulle het gebid: toe laat Hy kwartels kom; en Hy het hulle versadig met hemelbrood. |
41 | Hy het 'n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke -- 'n rivier! |
42 | Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg. |
43 | En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel. |
44 | En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem, |
45 | dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja! |