| Chapter 50 |
1 | 'n Psalm van Asaf. Die God van die gode, die HERE, spreek en roep die aarde, van die opgang van die son af tot sy ondergang toe. |
2 | Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans. |
3 | Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig. |
4 | Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel: |
5 | Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit! |
6 | En -- die hemele verkondig sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel! Sela. |
7 | Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat Ek jou dit kan inskerp: Ek is God, jou God! |
8 | Oor jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My. |
9 | Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; |
10 | want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. |
11 | Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. |
12 | As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. |
13 | Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink? |
14 | Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; |
15 | en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer. |
16 | Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond -- |
17 | terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? |
18 | As jy 'n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers. |
19 | Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog. |
20 | Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy. |
21 | Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel. |
22 | Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie. |
23 | Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet. |