| Chapter 14 |
1 | Die mens uit 'n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus. |
2 | Hy spruit uit soos 'n blom en verwelk; ook vlug hy soos 'n skaduwee en hou nie stand nie. |
3 | En oor so een maak U die oë oop, en U bring my voor u gereg. |
4 | Ag, kon maar 'n reine voortkom uit 'n onreine -- nie een nie! |
5 | As dan sy dae vasgestel is, die getal van sy maande by U is, U vir hom grense gestel het waar hy nie oor kan gaan nie, |
6 | kyk dan weg van hom af, dat hy kan rus -- totdat hy soos 'n dagloner hom tevrede voel met sy dag. |
7 | Want vir 'n boom is daar verwagting: as dit afgekap word, loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie. |
8 | As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof -- |
9 | van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak 'n tak soos 'n jong plantjie. |
10 | Maar 'n man sterwe en is magteloos; ja, 'n mens blaas die asem uit en -- waar is hy? |
11 | Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die rivier droog uit en lê droog -- |
12 | so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie. |
13 | Ag, as U my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my 'n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink! |
14 | As 'n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; |
15 | U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang. |
16 | Want nou tel U my voetstappe. Let U nie op my sonde nie? |
17 | My oortreding is verseël in 'n bondeltjie, en U sluit my ongeregtigheid weg. |
18 | Maar soos 'n berg stukkend val as dit neerstort, en 'n rots versit word uit sy plek; |
19 | die water klippe glad skuur; die stortvloede daarvan die grond van die aarde wegspoel; so is die verwagting van 'n mens -- U maak dit tot niet. |
20 | U oorweldig hom vir ewig, en hy gaan heen; U verander sy gelaat en stuur hom weg. |
21 | Sy kinders kom in eer, maar hy word dit nie gewaar nie; en hulle word gering, maar hy let nie op hulle nie. |
22 | Net sy vlees aan hom voel pyn, en sy siel in hom treur. |