Afrikaans Bible

PSALMS 118

PSALMS

Return to Index

Chapter 119

1

 Alef. Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel. 

2

 Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; 

3

 ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel. 

4

 U het u bevele gegee om dit trou te onderhou. 

5

 Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou! 

6

 Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie. 

7

 Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer. 

8

 Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie. 

9

 Bet. Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. 

10

 Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. 

11

 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. 

12

 Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge! 

13

 Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond. 

14

 Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom. 

15

 Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. 

16

 Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie. 

17

 Gimel. Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. 

18

 Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. 

19

 Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. 

20

 My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur. 

21

 U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. 

22

 Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. 

23

 Al sit vorste en beraadslaag teen my -- u kneg oordink u insettinge. 

24

 Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne. 

25

 Dalet. My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. 

26

 My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge! 

27

 Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink. 

28

 My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord. 

29

 Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet. 

30

 Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel. 

31

 Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie! 

32

 Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart. 

33

 He. HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar. 

34

 Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte. 

35

 Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek 'n behae. 

36

 Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie. 

37

 Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë. 

38

 Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees. 

39

 Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed. 

40

 Gewis, ek het 'n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid. 

41

 Wau. En laat u goedertierenhede oor my kom, o HERE, u heil volgens u belofte, 

42

 sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord. 

43

 En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek. 

44

 Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd, 

45

 en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele. 

46

 Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie. 

47

 En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet, 

48

 en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink. 

49

 Sajin. Gedenk die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het. 

50

 Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak. 

51

 Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie. 

52

 Ek het gedink, o HERE, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos. 

53

 Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat. 

54

 U insettinge was gesange vir my in die huis van my vreemdelingskap. 

55

 HERE, in die nag het ek gedink aan u Naam, en ek het u wet onderhou. 

56

 Dit het my deel geword, omdat ek u bevele bewaar het. 

57

 Get. Die HERE is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar. 

58

 Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte. 

59

 Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse. 

60

 Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou. 

61

 Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie. 

62

 Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge. 

63

 Ek is 'n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou. 

64

 HERE, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge. 

65

 Tet. U het goed gedoen aan u kneg, HERE, na u woord. 

66

 Leer my 'n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie. 

67

 Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord. 

68

 U is goed en doen goed; leer my u insettinge. 

69

 Vermeteles het my leuens toegedig; maar ‚k bewaar van ganser harte u bevele. 

70

 Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ‚k verlustig my in u wet. 

71

 Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer. 

72

 Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. 

73

 Jod. U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer. 

74

 Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek. 

75

 Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het. 

76

 Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg. 

77

 Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging. 

78

 Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ‚k oordink u bevele. 

79

 Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken. 

80

 Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie. 

81

 Kaf. My siel smag na u heil; op u woord wag ek. 

82

 My oë smag na u belofte en sê: Wanneer sal U my vertroos? 

83

 Want ek het geword soos 'n leersak in die rook; u insettinge het ek nie vergeet nie. 

84

 Hoeveel sal die dae van u kneg wees? Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers? 

85

 Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie. 

86

 Al u gebooie is waarheid; hulle vervolg my sonder oorsaak; help my! 

87

 Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ‚k het u bevele nie verlaat nie. 

88

 Maak my lewend na u goedertierenheid, dat ek die getuienis van u mond kan onderhou. 

89

 Lamed. Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele. 

90

 U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan. 

91

 Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte. 

92

 As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende. 

93

 Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak. 

94

 Aan U behoort ek: verlos my, want ek soek u bevele. 

95

 Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse. 

96

 Aan alle volmaaktheid het ek 'n einde gesien, maar u gebod is baie wyd. 

97

 Mem. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. 

98

 U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. 

99

 Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. 

100

 Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. 

101

 Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. 

102

 Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want U het my geleer. 

103

 Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. 

104

 Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad. 

105

 Noen. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. 

106

 Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou. 

107

 Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord! 

108

 Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge. 

109

 My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie. 

110

 Die goddelose het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie. 

111

 Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart. 

112

 Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe. 

113

 Samek. Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief. 

114

 U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek. 

115

 Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar! 

116

 Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie. 

117

 Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let. 

118

 U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens. 

119

 U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief. 

120

 My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele. 

121

 Ajin. Ek het reg en geregtigheid gedoen: gee my nie oor aan my verdrukkers nie. 

122

 Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie. 

123

 My oë smag na u heil en na die belofte van u geregtigheid. 

124

 Handel met u kneg na u goedertierenheid, en leer my u insettinge. 

125

 Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u getuienisse kan ken. 

126

 Dit is tyd vir die HERE om te handel: hulle het u wet verbreek. 

127

 Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud. 

128

 Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek. 

129

 Pe. U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle. 

130

 Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig. 

131

 Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek. 

132

 Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet. 

133

 Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie. 

134

 Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou. 

135

 Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge. 

136

 My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie. 

137

 Sade. HERE, U is regverdig, en reg is u verordeninge. 

138

 In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou. 

139

 My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het. 

140

 U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief. 

141

 Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie. 

142

 U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid. 

143

 Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging. 

144

 U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe. 

145

 Kof. Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE! Ek wil u insettinge bewaar. 

146

 Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou. 

147

 Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek. 

148

 My oë is die nagwake voor om u woord te oordink. 

149

 Hoor my stem na u goedertierenheid; o HERE, maak my lewend volgens u verordeninge. 

150

 Hulle kom nader wat skandelike dade najaag, hulle wat ver van u wet af is. 

151

 U, o HERE, is naby, en al u gebooie is waarheid. 

152

 Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het. 

153

 Resj. Sien my ellende aan en red my, want u wet vergeet ek nie. 

154

 Verdedig my regsaak en verlos my; maak my lewend volgens u belofte. 

155

 Die heil is ver van die goddelose, want hulle soek u insettinge nie. 

156

 HERE, u barmhartighede is menigvuldig; maak my lewend volgens u verordeninge. 

157

 My vervolgers en my teëstanders is talryk; van u getuienisse wyk ek nie af nie. 

158

 Ek het diegene gesien wat troueloos handel, en dit het my gewalg dat hulle u woord nie onderhou nie. 

159

 Aanskou dat ek u bevele liefhet; o HERE, maak my lewend na u goedertierenheid. 

160

 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. 

161

 Sin, Sjin. Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord. 

162

 Ek is vrolik oor u belofte soos een wat 'n groot buit vind. 

163

 Leuens haat ek en het daar 'n afsku van; u wet het ek lief. 

164

 Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge. 

165

 Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie. 

166

 o HERE, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie. 

167

 My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief. 

168

 Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U. 

169

 Tau. o HERE, laat my smeking nader kom voor u aangesig; maak my verstandig volgens u woord. 

170

 Laat my smeking voor u aangesig kom; red my volgens u belofte. 

171

 My lippe sal lofsange laat uitstroom, want U leer my u insettinge. 

172

 My tong sal u woord besing, want al u gebooie is geregtigheid. 

173

 Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele verkies. 

174

 o HERE, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging. 

175

 Laat my siel lewe, dat dit U kan loof; en laat u gerigte my help. 

176

 Ek het gedwaal soos 'n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie. 

PSALMS 120

 

 

 

Please Click the Ads.

Clicking the Ads helps us to keep this free Bible website open for everyone.

Thanks!

 

 

 

HTMLBible Software - Public Domain Software by johnhurt.com

 


Other Items are Available At These Sites: